Shopping Spree

Deur Evette Lombard©

Mei 1999

Heathrow

Was interessant, daar kon ek die jong manne bekyk wat almal met fyn raam brilletjies en Italiaanse skoene sit en koerant lees, Franse tieners wat aan die slaap raak op die banke, hulle sit tydskrifte of koerante onder hulle voete sodat hulle skoene nie die bekleedsel vuilsmeer nie.  Daar was ryk Amerikaners, wie weet of hulle boere of sakemanne is, met eksotiese vrouens wat onbenullighede by Harrods koop.  Ek het 4 Swisse of Oostenrykse boere gesien in tradisionele drag, ja, kompleet met gebreide kouse, opgetrek tot net onder die knie, met Edelweiss blommetjie op, lederhausen, bandanna om die nek en berg hoedjie op die kop.  Een in rooi, een in geel, een in blou en die ander een kan ek nie onthou nie want toe moes ek kyk waar ek loop.  Groot manne, fiks manne, bulle, ek sê vir jou, mens ruik sommer die Alpe as jy hulle sien.

Vele ure later, is ek op die vliegtuig na Nice, eers ʼn traantjie gestort uit skone alleenheid en totale oorweldiging.  Was toe skoon droog oog toe ek my ouers op Nice kry.  Nice is nice, baie nice. Soos ʼn deftige ou “sea side town”.  Tres joli!

Nice

Dit was goeie nuus toe ek hoor dat die Franse Frank en die Rand dieselfde is .  Die punt is dat dinge hier min of meer die selfde kos maar dat jy hier veel beter kwaliteit, verskeidenheid en waarde vir jou geld kry!

Ek kon dit nie weerstaan om ʼn Franse bra te koop nie (ha ha ʼn Franse bra is nie juis anders as enige ander bra nie behalwe vir die winkel se naam, sy ligging en sy verskeidenheid).  "Secrets Dessous" - ek vertaal dit as ‘secrets underneath’ of in Afrikaans, verskuilde agendas, is ʼn winkeltjie in Rue Massena.  Dié straat in Nice, toegesit vir verkeer, net Franse mesdames met poedels en baquettes wat daar op en af paradeer, reg oorkant ʼn seekos restaurant wat jou na jou asem laat snak...en snak...so snak dat jy dan maar omdraai en ʼn bra koop.  Daar is bra’s, elkeen met sy eie broekie: in kant, brokaat, satyn, katoen, wonderbra, rekstof, outyds, enorm, modern, koekerig, uitdagend, die werke! 

Jy het nog nie sulke pragtige onderklere gesien nie - ek dink nie mens dra klere as jy dit dra nie, en dit is wat ek die Franse paradoks noem.  Hulle doen.  Hulle dra daai stunning blou kant bra wat lyk soos iemand se trourok op Maandag en môre dra hulle die geel een met magrietjies op en Vrydag aand die een met koffiebone op.  Wie dit ooit sien behalwe hulle en hier en daar ʼn gelukkige man weet ek nie, vra my nie, maar wat ek weet is dat hulle dit dra!  Die winkel is nie in die agterstrate nie, daar tussen alles alledaags.  Groot vrouens, kleines, kortes, langes, oues almal het styl en natuurlik Franse onderklere! 

Al is jou voete so dik soos poffertjies, hulle is in ʼn paar ontwerpers skoene ingedruk...en siedaar, jy het styl...en jy loop met ʼn brood en ʼn poedel rond.  Lyk asof dit die essensiële bestanddele is om Frans te wees.  My keuse val toe op ʼn plein, sensible wit een.

Oorkant die straat staan ʼn winkelpop met die oulikste gebreide rokkie in swart en wit strepe.  Hy het al my oog gevang toe ons die vorige aand ʼn eetplek loop en soek het.  Dit is toe niks minder as ʼn Jean Paul Gaultier nie.  Pas hom aan, lyk eenvoudig stunning.  Kos net R800.  Besluit om liewer 8 kledingstukke (ʼn somer en winterkas vir die res van my lewe!) teen ʼn honderd rand elk te koop en aan te hou droom oor die "enfant terrible" van Franse fashion!  In elke tweede winkel sien ons toe kopieë van sy rokkie, maar elkeen se strepe is of te breed of te nou of te lank of te kort, net nie heeltemal die oorspronklike nie.  Besluit in elk geval dat Stellenbosch te klein is vir so ʼn uitrusting, daar sal van gepraat word tot aan die ander kant van die Hottentots Holland.

Lily

Volgende ding oorreed ek myself om parfuum te koop, eintlik eau de toilette.  Sal maar moet self koop terwyl daar nog nie ʼn man is wat na hierdie fynere behoeftes kan omsien nie, en siende dat ek nou al klaar ʼn bra gekoop het vir myself, hoekom nie? 

In Heathrow, ontdek ek al Christian Dior se édition limitée: LILY.  Dit is in die fynste satyn botteltjie, pienk en daar is die kenmerkende spierwit klokkie lelie (snowbell?) met sy groen blaartjie wat soos ʼn spies lyk, op die boksie gedruk.  Ruik, dit ruik heerlik vars en skoon, net soos die lente.  Lente, jy kan dink, is ʼn groot ding in Europa.  In Nice tref ons toe vir Sephora.  Sephora soos in Moses se Sephora, ʼn vriend het my vertel dat sy die mooiste vrou in die hele Egipte of Midian of iets was en uiteindelik met Moses getrou het en ons almal weet wat met Moses gebeur het.   In elk geval, Sephora is ʼn winkel met mooi maak goed, met rye en rye parfuum.  Links is dames fragrance, regs is mans, unisex en nóg dames parfuum.  Elke kant bestaan uit 5 horisontale blink swart rye rakke so lank soos my woonstel.  Elke botteltjie word uitgestal, met ʼn tester langsaan en ʼn houertjie papiertjies waarop jy die geur uittoets, ʼn langwerpige bakkie langsaan waar jy die papiertjie gooi as jy klaar geruik het.

In die middel van die vloer is een enorme verskeidenheid lipstiffies.  Elke skakering van die reënboog, van rooi dwars deur tot goud en silwer.  Dit is maklik om te sien watter een die mees gewilde kleur is, van die regte egte rouge is net die tester oor.  Langsaan is ʼn botteltjie met ʼn skerp tuit waaruit jy ʼn druppeltjie alkohol op ʼn wattetjie drup om die samples van jou hand te vee, die gebruikte watte kom in ʼn pieringtjie langsaan.  Die modelle wat daar werk is almal in swart met tien teen een daardie rouge wat uitverkoop is op hulle lippe.  Hulle kom gedurig om die vuil wattetjies te verwyder.  Oorkant die lipstiffies is die maskara en oogomlyners en lipomlyners.  Almal in dieselfde verskeidenheid kleure en non kleure.  Die volgende rak het naellak in piep klein botteltjies, weer al die kleure en ʼn hele helfte van die rak is net glitter naellak.  Elkeen van die het sy botteltjie alkohol en watte...

Ek besluit om vir die parfuum te gaan.  "Pardon Mademoiselle", ons vat nie ʼn kaart nie.  Met groot teleurstelling verlaat ek die winkel sonder die lelies van Frankryk.  Terug in die hoofstraat ( ons was nou in ʼn mall) verskyn daar skielik weer ʼn Sephora, die keer twee keer so groot as die vorige een.  Hulle neem ʼn kaart en ek koop die parfuum vir 40 Frank goedkoper!   Moes ʼn engel wees wat gesê het hulle vat nie ʼn kaart nie, voila!  Daar het ek toe my eie persoonlike wonderwerk op die Avenue Jean Medecin. 

Later kom ek agter presies hoe spesiaal die parfuum eintlik is.  Orals in Nice word daardie spesifieke klokkie lelies op straat verkoop, orals groei hulle in blombakke.  Later in die Luberon in Provence, is dit die geur van die outydse pers irisse wat ORALS groei - soos die Kaap se varkore.  Daardie bekende woorde van die lelies van die veld.  Nou loop ek met daardie lelies in die buiging van my nek.  In Haute Provence stop ons langs ʼn veld wit narsissus lelies wat dieselfde lekkerruik het, ek pluk ʼn bossie en ruik heeldag daaraan.  Wanneer gaan iemand die geur van ʼn varkoor neem en parfuum maak?  Seker nie in ons leeftyd nie!  Nou dra ek die geheim van die lelies van die velde aan my lyf.  Dis ʼn goeie lessie om by jou te dra!

Dit was Nice, soos ek sê, baie nice.  Fees!


To the top!