Somerfeeste by Lugano en Campione

Deur Catrien de Bruin©

Julie 2002

Julie is die somermaand wat uitsluitlik vir buitelugfeeste uitgesonder word, want menslik gesproke skyn die son elke dag 14 ure. In die jaar 2002 was dit 'n uitsondering, maar as jy gewoond is om te funksioneer of dit reën of nie, gaan die lewe aan.

Reën, son of bewolk, die Ticinese het musiek gemaak. Die groot luukse is dat alles gratis is en kan jy kom en gaan soos dit jou pas. In Lugano was dit 'n hele week Jazz festival en was die lungolago toegesit vir verkeer. Ons het een aand hierdie fees bekyk, beluister en beleef ... jazz is nie ons koppie tee nie, maar daar is soveel ambience om te beleef dat jy net daarop versadig kan word. Ons het ons verstom aan die kamera wat soos 'n robot outomaties voor die verhoog op en af op geoliede wieletjies gly om alles op te neem en vas te lê. Die ristorante op die Piazza Riforma sit natuurlik styf opmekaar ingeplant, sodat jy nie eers in die versoeking kom om hier in te val nie ... ons hou van spasie. Die jong mense op hulle rollerblades in die straat maak my jaloers, want dit lyk so lekker. Ek wil ook so rol! Die meer is 'n vertoning van swane, eende, trapbootjies, seilbootjies en ferries. 'n Ander ouderdomsgroep doen die promenade sit-sit so op die bankies.

Hier in Campione het die perdjies ander kleure, want hier is ltaliaanse bloed. Hier word 'n verhoog gou-gou in die vierkant in die ou dorp opgeslaan ... luidsprekers word opgestel, 'n paar stoele neergesit en Italiaanse komedie, in klassieke Italiaans waarvan ons nie 'n woord verstaan nie, word opgevoer. Te oordeel aan die kleredrag moet dit iets uit die Renaissance wees. Die toeskouers het met hierdie kultuur grootgeword. Hulle maak die regte bewegings en geluide op die regte tye.

Die Piazza Roma sorg ook vir lewendige musiek wat in die jong latte se smaak val. Peter (ons landlord) sê die musiek is nie in die styl van ons jare nie. Hierdie keer staan ons agter die Duitser!

Die program vir Saterdag 27 Julie trek ons aandag: "Spettacolo pirotecnico, musica con Paradise Band". Hier kom 'n ding, dis vuurwerke met 'n Paradys Orkes? Hiermee kan ons net aanklank vind! Dis alles hier op ons drumpel.

Campione d' Italia is 'n "klein" Italiaanse laslappie in Switzerland. Hier is een straat wat jou inbring en een straat wat jou uitvat. Ons woon in die straat wat jou uitvat. Elke stukkie spasie is tot die uiterste benut. Ek benadruk dit, want om Saterdagaand se "Spettacolo" te verstaan moet jy die agtergrond ken of 'n prentjie maak. Volgens ons standaarde is hier, nie piek vir duisende nie.

Teen 19h00 kom mense verby met rugsakkies en koelsakke. Dis families van alle ouderdom ... babas in stootwaentjies, kleuters op hul Pa se nek, jongmense uitgevat in die jongste modes. Manne met strikdassies, dames met goud in die ore en aan die vingers. Die son sit hoog en die spettacolo is gemerk vir 21h30, waar gaan die mensies heen? Ons is gewoond aan die "passegiata" van elke aand, maar die stroom het verander in 'n vloed. Dis mense wat net aankom en aankom. Philip, waar gaan Campione almal neersit, is my vraag!

Italië is vanaand in Campione. Hoe ver moes hierdie bemarking gaan? Milaan, Como, Venesië, Verona! Ironies dat die inwoners net oor hul balkonne hang en die film wat verby rol rustig gadeslaan.

Spaghetti is op ons spyskaart en toe mio marito sê "butta la pasta" is ek soos dit elke "mama" betaam reg om die spaghetti in die pot te gooi, maar met my oog op die straat, want hierdie vertoning kan ek nie mis nie. Gelukkig is my kombuis uitsig oppie straat.

Ons kleine kaai hier, by ons oppie meer, verander skielik in 'n vaporetta stasie van Venesië, want die watertaxi kom sy kliënte hier aflaai ... die kaai van Campione is natuurlik nie vanaand beskikbaar nie.

Ons is so geïntimideer deur die golf van besoekers dat ons teen 21h00 ook inval en afsit na Piazza Roma. Elke trappie, elke randsteen, elke bankie, elke moontlike spasie is gevul. Die orkes met luidsprekers probeer dapper om 'n vertoning te lewer, maar dit kekkel so in ltaliaans, hulle het nie 'n kans nie. Elke café , elke ristorante en bar is vanaand gevul. Campione is vlytig besig om te oes vir die stil koue winter wat voorlê.

Ons besluit om hoogte te kry vir hierdie spektakel en spreek die trappe na bo aan. Hier staan almal reeds die hoogtes vol, maar ons het ook al goed geleer hoe om ons klym af te steek.

Die prentjie oppie meer is sprokiesagtig, Ses vlotte is opgestel vanwaar die vuurwerke afgeskiet word. Honderde klein bote al dobberend met hul groen en rooi liggies, lyk soos 'n drywende dorpie op water. Die ferries soos groot paleise, wat later hul ligte uitgedoof het, sodat daar so min lig as moontlik is.

Die spektakel begin 'n uur later as wat die program sê, maar niemand kla nie. En toe ... die groot oomblik .... 'n pose van stille afwagting (hoe weet hulle dit?). Die eerste klappers word afgeskiet. Die pikgatswart hemelruim word gevul met triljuisende veelkleurige liggies. Die berge om die meer vorm 'n natuurlike eggo, die skoot van die klapper word herhaal en vir nog 'n paar sekondes gehou om saggies weg te smelt.

Elke vuurwerk het 'n spesiale komposisie wat vooraf oor die luidsprekers aangekondig is, met wie en vanwaar die maestro is. Musiek is hiermee gekombineer. Darem was Aida se groot mars van Verdi vir ons een van die bekendes.

Die Grande Finale was onbeskryflik mooi. Die spektakel het 'n uur geduur.

Wat 'n genot om na ons slaapplek te stap en nie deel te wees van die massa motors, motorfietse en voetgangers wat seker by Bissone in Switserland hul busse of treine moet vang nie. Ons het nog lank die verbygaande verkeer uit ons balkon bekyk. Die voetgangers het oorgeneem en die straat vol gestap. Motors en motorfietse het afgeskakel en "geduldig" vir die voetgangers gewag.

Ons het alle vensters en tapperellies dig toegemaak en rustig geslaap.

Vanoggend was Campione skokkend stil en skoon! Hoe is dit alles moontlik? het ons net weer in stille verwondering gestaan. Daar is tog nie skoonmaakdienste op Sondae nie.

Dit was verseker 'n "spettacolo" wat ons sal onthou.


To the top!



footer for Somerfeeste page