Strade Regia - Como

Catrien de Bruin©

Maart 2008

Strada RegiaDie Strade Regia langs die meer van Como is nog ‘n onontdekte geheim, nie oorstroom deur toeriste nie. Hierdie was die hoofroetes in die Romeinse tyd. Die volksmond het egter die roete vanaf Milaan na Chiavenna verander na La Via Regina ter ere van die Longobard Koningin Teodolinda wat Koningin was van Italë vanaf 589. Onlangs is die roete vanaf Como en Brunate tot by Bellagio, sowat 30 km, skoongemaak en oopgestel vir stappers. Die oorspronklike naam in Latyn is ook weer in ere herstel: Strada Regia.

View from Brunate

Dis Maartmaand met Lente op hande, alhoewel die weer kat en muis speel, kry ons ‘n blouselblou dag met volop son vir hierdie staproete wat in BRUNATE hoog bokant Como meer begin. BRUNATE is ‘n lewendige Italiaanse dorpie waarvandaan jy asemwegslaan prentjies oor Como en die Alpe op ‘n sonnige dag kan beleef.

‘n Stukkie uit die geskiedenis; Alessandro Volta het vir ‘n rukkie hier gewoon. Vir laasgenoemde is daar in Como op een van die piazzas ‘n beeld opgerig. Hy is in Como gebore en het die eerste battery ontwikkel. Die eenheid vir die elektriese stroomsterkte is na hom vernoem soos in 'n 12 Volt battery. Sou jy nie oor ‘n voertuig beskik nie, kan jy Brunate met die rattrein wat in Como begin, bereik. Die drie ster Locanda Milano sedert 1873 weet hoe om ‘n cappuccino te maak, wat ‘n lekker Italiaanse inspuiting is om jou genoeg energie te gee vir hierdie oefening langs die meer. In die oggend is jy aan die koeltekant van Montepiatto, neem jou ‘jacket’ saam.

Campari Fountain

Hiervandaan neem dit 15 minute tot by die begin van die staproete. Soos jy by die rattrein stasie uitkom in die hoofpad, draai regs en hou daarna links en kyk uit vir die aanwysings “STRADA REGIA”. Die gesogte Italiaanse drankie Campari het sy eie publieke fontein – jy kan dit nie mis nie – dis gratis en verniet om uit hierdie Campari fontein te drink.

Wanneer jy by die sokkerveld op jou linkerhand kom, is die begin van die staproete in sig na regs. Waardeer die villas om jou – dis prentjiemooi geskilder en die Lente tuine in volle blom.

Pak piekniek in jou rugsakkie, want oral is bankies om te rus en die poskaartprentjies van Como meer vas te lê vir later se weer en weer kyk. Hierdie staproete is meestal gelyke grond oppervlaktes – niks van klou en hang vir lewe en dood nie. Hier is wel ‘n kennisgewing wat sê: 'Ponte Simone Portata kg.200 – si declina ogni RESPONSABILITA' Hier is ‘n bruggie en as jy swaarder as 200kg is, stap jy hieroor op eie verantwoordelikheid. Ons het dit loshande gemaak!!!!

Lente is groen vreugde vir die oog – voordeel van die bome nog bladloos is dat jy die meer en die oorkant volgepak van geboue duidelik kan sien. Geel krokusse, pers Alpe viooltjies en ‘n groen blommetjie waarvan ek die naam nie ken nie, kruip uit die winter blaretapyt en blom met oorgawe.

Hierdie roete is ‘n gemaklike 2 uur stappie tot by die kapel en terug.


To the top!


footer for Strade Regia page