La Festa del Tartufo Nero a Frontino

Deur Catrien de Bruin©

Augustus 2008

Pa de Bruin het altyd gesê: ‘Niks gebeur toevallig nie’. Hiervan kan ek weereens getuig toe ons ‘nie toevallig’ vir Kola en Letitia Prinsloo by Bosmans Crossing, Stellenbosch, waar Evette en Wanda hul winkel ‘FIND’ het, raakloop.

Die Prinsloos was woonagtig in Pretoria waar ek by Letitia haar Feminika kookkuns kursus in die jare tagtigs bygewoon het. Hulle het lank reeds verhuis na Stellenbosch, waar die ‘Insitute of Cullinary Arts’ by Spier, hoogs suksesvol deur hulle bestuur word.

Frontino In die beeldskone dorpie FRONTINO in die Marche provinsie van Italië, naby Urbino, het die Prinsloos ‘n guitige woonplekkie gerestoureer.....minimalisties en smaakvol is die wagwoorde. Gedurende April 2005 het ons ‘n ‘Taal en kultuurkursus’ in FRONTINO bygewoon. Hierdie dorpies in die Marche provinsie, met sy meer bekende Toskane buurstreek, het nog nie onder die verwoestende aanslag van massas toeriste deurgeloop nie. Hier is die pas stadig en die tyd staan stil.

Hoogtepunt op die kalender vir die naweek van 2 en 3 Aug is die swart truffelfees in Frontino, vertel Letitia. Terselfdertyd nooi sy dat ons by hulle in Frontino kan tuisgaan vir hierdie okkasie. Om agter die misterie van swart truffels te kom, was nog altyd ‘n droom wat met hierdie uitnodiging ‘n werklikheid word.

Tartufo Nero TARTUFO NERO: Die seisoen vir truffels val in Mei tot September en kom voor in Europa, Asië, Noord-Afrika en Noord-Amerika. Dis baie moeilik om te vind en daarom baie duur. Groei tussen sekere boomwortels onder die grond en om dit uit te snuffel moet jy ‘n neus hê. Vroeër is varke gebruik, maar vandag word spesiale truffelhonde opgelei. Die eienaar word deur sy hond gelei en so met die hond se neus op die grond, word truffels gejag. Sodra die hond op die fonds afkom, word hy beloon met ‘n stukkie brood en ‘n bemoedigende vryf oor die kop.

Die andersins stil en rustige Frontino trek skielik soveel aandag en die aanloop vir die naweek,begin vroegoggend met ‘n geskarrel van tafels en tente. Herinner my aan Senekal se kerkbasaar. Skielik spring dit waarom alles draai, voor ons in.......il TARTUFO NERO!! Ongeveer 50 ronde, skurwe swart tandjie-agtige balletjies wat varieer in grote van ‘n okkerneut tot ‘n pruim. Die truffle eienaar pak dit uit in drie verskillende hopies, wat die prys aandui; EUR10, EUR20 en EUR35. Waarna ruik ‘n truffel? Vir my na ‘n kombinasie van vogtige grond, neute, vars lug en helaas donker sjokolade! Gewapen met 7 truffels, ‘n truffelskafie en truffel-olie voel ons skatryk.

Teen hierdie tyd is die kontrei se mense almal in Frontino se enigste straatjie en die lang rye tafels op die plein langs die ultra moderne fontein raak vinnig volgepak. Die Italianers kwetter soos voëltjies en ons verlustig ons aan die hartlikheid en handgebare, asof ‘n ieder en elk in ‘n opera speel.

Prosciutto Teen alle verwagting is daar onder die reuse skadubome net 6 ‘tafeltjies’ met produkte, bestaande uit truffels, kaas, heuning, gedroogde porcini, snuisterye, juwele, moderne sandsteen kunswerke en selfs rekenaar fotografiese werk. Helaas 'n heel 'prosciutto' boud aan die lamppaal.

Die hoogtepunt is die ete wat bestaan uit bruschetta, pasta, frittata met truffels en wyn wat uit ‘n vaatjie in glas kraffies getap word. Alles baie basies, maar geurig en lekker!

Met professionele hulp aan die Prinsloos se kant, leer ons die aand om hierdie swart ‘gem’ voor te berei en gaar te maak. Borsel truffels om alle tekens van grond af te kry. Week in lou water vir 10 min. Rasper of skaaf truffels in fyn skaafsels.....dis nou waar die kleine truffelskafie handig te pas kom. Truffels is sensitief vir hitte. Braai in botter of olyfolie vir ‘n minuut of twee. Kola het die heerlikste risotto gemaak met sampioene en Letitia strooi hierdie sterk aromatiese truffel geure bo-oor. BUONO!! Ons het ‘n paar truffels saamgebring en gisteraand, rou skaafsels in ‘n frittata gegooi en gaargemaak in die oond. Mhhh .....Heerlik!

Dit was ‘la festa del tartufo nero’

Deel van hierdie uitstappie is natuurlik die heuwellandskap van die Marche. Uitgestrekte landskap vol groen heuwels met koring of sonneblomlande. Natuurlike bome is sover moontlik behou en vorm ‘n ongekunstelde, natuurlike skildery. Op byna elke heuwel klou ‘n piepklein Middeleeuse dorpie krampagtig aan die kruin vas. Fort of kasteel as middelpunt, klooster en kerk byderhand.

SASSOCORVARO, is een van hierdie dorpies en ons is gelukkig om op die Saterdagoggend die mark te beleef. Baldadige hope en stapels sonskyngroente en vrugte soos bloedrooi en goudgeel soetrissies, pers eiervrugte, nektariens en grasgroen druiwe. Vars produkte is vir die Italianers ononderhandelbaar. Opmerklik is die groente tuintjies, tussen die rose en blomme, gedy lappe kruie, artisjokke, eiervrug en tamaties van alle groottes. Die kasteel is gedurende die 2de wêreldoorlog gebruik om baie van Italië se gesogte kunswerke van Venesië, Milaan, Florence en Urbino te bewaar.

Maandagoggend is vol somer met volop son. Ons 4 spring in die ysterblou Citroën. Vandag is die heuweldorpies op ons program. SANT' IPPOLITO, SORBOLONGO, BARCHI, by laasgenoemde drink ons lekker cappuccino en in die kerk word ons vriendelik met die hand gegroet deur die plaaslike priester wat ‘n goeie Engels praat. MONDAVIO het ‘n juwele winkeltjie wat elke vrou se oë laat glinster. Hierdie rooi baksteen Renaissance heuweldorp het ‘n goed bewaarde 15 eeuse Fort met enorme wapens in die moot rondom die fort. Sou hulle kon praat!! Onder reuse plataan bome en oorvloedige koelte, spring die Ristorante ‘Al Giardino’ voor ons in. Alhoewel 11h30 , word ons ingelig dat dit te vroeg is vir middagete, maar ons is op die regte tyd vir ‘n ‘prosecco’. Ons is warm en dors en stem in vir hierdie yskoue ligte wit vonkelwyntjie met olywe en chips. Wat ‘n lewensredder!!

CORINALDO, ons volgende bestemming is omring deur kilometers van gefortifiseerde mure. Philip het van die Hotel I Tigli gelees met voortreflike middagetes. Ons is op die regte tyd op die regte plek, want I Tigli, spring voor ons in, sonder slag of stoot. Hier is alles baie keurig en die kos smaakvol. Wye keuse van pastas en hoof geregte.

Hierna kom FRATTE ROSA, TORRE SAN MARCO en PERGOLA aan die beurt. Dis die siesta (rus) uur en ons stap die nou straatjies vinnig en maklik. PERGOLA, is te groot na ons smaak en so sluit ons die heuweldorpies af en via Cagli is ons oor die heuwels terug na Frontino.

Danksy die Prinsloos het ons 4, vyf ster dae beleef. Dit was ‘n ‘FESTA’. GRAZIE MILLE!

NS. Hier is 'n kort uittreksel van ons video oor ons besoek:

Nuut: Jy kan nou ook jou eie storie oor jou Italië ervaring op ons Web plaas. Selfs 'n video! Gaan doen dit hier.


To the top!



footer for tartufo nero page