Teatro alla Scala

Deur Catrien de Bruin©

Maart 2006

Sedert 1974, wat ons in Milaan gewoon het, was daar die behoefte om ʼn konsert van watter aard ookal in hierdie beroemde teater  van Milaan by te woon.  

Twee en dertig jaar later op 21 Maart 2006 het die geleentheid hom voorgedoen.

Hoe gebeur dit?  Ons kom tot die gevolgtrekking dit het alles te doen met die weersomstandighede.   Februarie, Maart en April,  die begin van die voorjaar, is koue, nat en sneeu maande.   Ek ski nie meer nie en Philip is nou ʼn mooiweer skier.    Dis ʼn risiko om te reis, want die elemente kan jou vaskeer waar jy nie regtig wil wees nie.  Jy is dus ingeperk tot binnenshuise aktiwiteite.

Wat doen die mense van hierdie wêreld die tyd van die jaar......OPERA.    Dis ons kans. Philip doen navorsing op internet en ja daar is dit ....”Lucia Di Lammermoor ” in die La Scala van Milaan.    Op die stadium wat ons belangstel is daar sowaar nog 6 plekke oop in  die gallery.    Terloops dit is ook die goedkoopste plekke.   Pryse wissel van  €240 tot €24.    Terwyl ons nog bespiegel  wat en hoeveel sal jy uit die gallery kan sien en is dit staan of sitplekke,  en waaroor gaan die storie, sê nou dis aaklig, toe is daar nog net 4 plekke oor.     Ons val hiervoor .    Philip bespreek en betaal dadelik.....wat blits die tegnologie van vandag!!    Reaksie is onmiddellik......ons is bespreek en die kaartjies word aangestuur.      Dit was min of meer 18 dae voor die groot aand.     Nodeloos om te sê, die kaartjies was toe nie aangestuur nie,  maar darem het ons die bewys van bespreking in die hand.

Intussen doen ons navorsing oor hierdie Lammermoor dame. Die storie kom uit Sir Walter Scott se novelle “ The Bride of Lammermoor “. Dit is tipies die romantiese melodrama van die ewige “driehoek”.     Sy is verlief op die man van haar hart, maar haar familie kies die man uit die adel met baie besittings, wat vir hulle tot groot voordeel sal wees.     In die proses kom ons agter hoe baie van die Italiaanse opera kom uit stories wat in Engeland afgespeel het.

Dinsdag   21 Maart 2006, ons  dag vir La  Scala.     Dit vra fyn beplanning, want ons gaan met die trein vanaf Chiasso na Milaan.     Soheentoe is maklik met tyd aan ons kant.   Vir die terugkom ná die opera is dit fynsny.    Die opera sal teen half-twaalf klaar wees.    Die ondergrondse treine maak middernag toe en die laaste trein uit Milaan na  Chiasso trek half-een op die 22ste.     Instruksies oor internet vir die opera was:   drag formeel, mans met das en baadjies, geen kameras of bandopnemers nie.    Alle jasse en sambrele moet ingeboek word.     Ons besef daar sal nie tyd wees om tou te staan vir ingeboekte items nie.    Om alles mooi in te kleur reën dit die dag katte en honne.     Dis nat en koud.    

Ons doen ons bes om  “formeel” aan te trek met die reisklere  in ons kas.     Geen jasse en een sambreel.

Die verkyker word op die laaste oomblik onthou .    

Alles loop op geöliede wiele en ons arriveer teen 16h00 in ʼn grys, nat Milaan,  fyn sproeireën.      Van die trein op die ondergronds reguit na die piazza Duomo.       Die katedraal is nog steeds toe onder steiers en doeke vir ʼn groot skoonmaak.     As jy dalk beplan het om die katedraal hierdie seisoen te sien, dan is dit neusie verby.      My keuse vir ʼn cappuccino val op La Rinascente (Die Renaissance), enorme afdelingswinkel regoor die Duomo.    Hier kan ek tenminste ʼn uur binnenshuis verwyl, terwyl Philip met die een sambreel gaan jag vir die kaartjies en eetplek vir die aand  uitsnuffel.

Na ʼn uur ontmoet ons.   Hy sonder kaartjies , want die kaartjieskantoor maak eers ʼn uur later oop as wat La Scala se webwerf sê en geen ristorante om en naby die Scala maak voor 19h00 oop nie.    Dit laat ons met ʼn beperkte keuse van eetplekke in die Galleria Vittorio Emmanuele.    Natuurlik is dit die plek om te wees!!!.    Weet dat jy nie net die ete betaal nie, maar ook vir die “ambience”.    

Eers werk en dan eet......kaartjies!!    By die kantoortjie staan ʼn  dame wat nommers uitroep en dan eers mag jy binnegaan vir kaartjies.    Ons het nie nommers nie .    Philip is dapper genoeg om haar te onderbreek en ons afskrif te wys.   Sy reageer vriendelik en lig ons in dat ons moet wag tot hierdie nommers klaar is.    Dit het gegaan tot by 140 en het wonderbaarlik vinnig afgegaan.

Ons beurt en sonder slag of stoot word ons koevert met kaartjies oorhandig. Dis toe wat ons eers besef dis die “openingsaand”.    Wat ʼn bonus.    Nou vir ʼn pasta en glasie rooi wyn in  een van hierdie glashokkies in die Galleria, wat jou teen die koue beskerm, maar die geleentheid gee om die verbygaande vertoning te geniet.   Ons is geseënd om ʼn oop tafeltjie reg voor die venster te kry.    BRAVO!!

Ons deel ʼn pizza en daarna elk ʼn spaghetti met wit mossels.     BUONO!!

Dis nie moeilik om die operagangers van die algemene toeris te onderskei nie.   Eersgenoemde is uitgevat in pelsjasse en die mans met swart pakke, wit hemde en strikdassies.    Natuurlik lyk ons “anders”, maar voel baie selfversekerd met die kaartjies in ons sak.     Groepe  Taiwanese kom verby en maak duisende prentjies van mekaar en die Galleria.   Feestelike atmosfeer en die kleine ristorantjie raak van vol na voller.    Hierna is ons in die regte stemming vir ons droom wat waar word.

Teatro Alla Scala, hier kom ons.    Kan nie glo ek gaan sowaar sien hoe hierdie gebou van binne lyk nie en dan nog boonop ʼn opera beleef .  

Die teater het sy  deure op 3 Augustus 1778 vir die eerste keer oopgemaak sê die boeke.

Met die hulp van sjarmante jong mensies, formeel aangetrek, word ons na  ons sitplekke begelei.    Op die 6de gallery is ons no. 200 en 201 op twee nou rooi sitplekkies.  In die middel agter, die laaste ry, wat ons die voordeel gee om regop te staan soos en wanneer ons wil.    Dankietog vir ʼn verkyker, want die verhoog is ver!!    Rondom ons word klein “opera” verkykers gebruik!! Wat ʼn plek!!     Ons is nie teleurgesteld nie, want dis KONINGLIK.    En voel ons nie koninglik nie!!  Goud en rooi fluweel met ʼn enorme chandelier in die middel vanuit die dak.     Die teater bestaan uit ʼn ouditorium en ses gallerye.     Aan beide kante is bokse met luukse sitplekke.  

Stiptelik 20h00 word die dirigent met luide applous verwelkom. Lengte van die vertoning is 3 ure en 30 minute.    Tussenin is pouses wat wissel van 30 minute tot 2 minute. Dis regtig nodig vir ons om te staan , veral as hoogte nie jou sterk punt is nie,  om behoorlik te sien.     Klein  TV skerms is oral oor en die woorde van die  sang word gewys.      Ons kry die gevoel dat hierdie mensies gereelde opera kykers is,  want  hulle leef hulself in die musiek in .     Families met tieners  is ook opmerklik.    Tussen die bedrywe word die akteurs bespreek en selfs gekritiseer.    So word ons verras deurdat die hoof sopraan ge-boo word, na haar, volgens ons, uitstekende optrede en sang.

Gedurende die lang pouse loop ons lekker rond en bekyk alles met die verkyker.   So merk ons ʼn “musiekinstrument” van ongeveer 30 wynglase tussen al die ander instrumente op.    Die musikant druk sy vinger in ʼn glas water en vryf dit dan oor die glase.    Onvoorstelbaar, maar die suiwerste fyn klankie wat hier uitkom.    Hierna kon ons dit optel by tye tussen die ander instrumente.......fantasties!!

Ons word weereens verras met die dissipline wat die gehoor aan die dag lê.   Die oomblik wat die ligte verdof  en die gordyn oopskuif is dit doodse stilte.

Die dekor baie subtiel en rustig, sonder tierlantyne. Die musiek en sang na ons mening uitstekend. Ons was nie teleurgesteld nie, inteendeel ons het dit baie-baie geniet.

Dit was presies half twaalf toe die gordyn sak en kon ons nie aan die applous en blomme deel hê nie.    Amper soos  ʼn Aspoestertjie, moes ons vinnig die werklikheid inval, want treine wag vir niemand nie.

Op ʼn drafstappie deur die Galleria na die ondergronds by die Duomo.     Catrien, die hekke is reeds toe, sien Philip dadelik.     Ek wil dit nie glo nie, want dis nie die inligting wat ons nagevors het nie.     Hardloop die trappe af en met volle vertroue dat hierdie hekkies net toe lyk, maar eintlik oop is, draai ons die handvatsel.....gesluit!!!! Wat nou?     Ons moet by Milano Sentraal binne ʼn halfuur wees vir die trein na Chiasso in Switserland waar swart karretjie vir ons wag .

Philip storm op die eerste poliesman af vir inligting.    Met  groot gebaar van “mi dispiace,   sciopero”,   (jammer, staking).    Hy wys ons waar om ʼn huurmotor te kry. Dankie  tog daar is baie van hulle wat sekerlik weet van hierdie staking en baie opera gangers na hul bestemming moet neem vannag.

Woordeloos deel ons die spanning  van wat wag op die stasie......hoe ver strek hierdie stakings?     Milaan Sentraal is nie ʼn plek waar jy middernag wil wees nie.    Dis  verlate met vreemde mensies wat oral rondhang en skielik is dit sommer bitter koud.    Flitse van stasie ondervindinge wat ek en Partner beleef het, speel by my verby.     Dis nie vir sissies nie.    Ek is dankbaar vir my lewensmaat  aan my sy.

Wat is ons groot verligting en weet dis net groot genade, toe dit op die  “partenza’  (vertrek) bord flits dat die trein na Chiasso  0.30 vertrek.    Die trein stoom in en ons val sommer in op die eerste beste sitplek

Hierdie is die laaste trein vir die nag en stop op elke, maar elke stasie,  ʼn melktrein, sou ons dit noem.    In Italiaans “regionale”.   Die trein is relatief leeg met ʼn paar arbeiders wat presies weet waar hulle moet afklim, want die trein stop elke keer voordat ons die naam van die stasie kan sien.    Dankie tog vir ʼn kaart in die wa waarvolgens ons die stasies kan tel en so bereken waar ons moet afklim.     Dit hou ons immers wakker!!!!

Teen half drie was ons veilig in ons Campione nessie.   Dankie VADER vir ʼn  opwindende en veilige uitstappie.


To the top!