Trompe l'oeil

Deur Catrien de Bruin©

September 2006

Hierdie Franse term wat letterlik vertaal ‘kul die oog’, beteken, het ons dan ook letterlik beleef op 'n uitstappie in die Portofino natuurpark, langs die Italiaanse Riviera.

Na ons verlede jaar September 2005, die ‘Cinque Terre’ gestap het , het ons gedink dit kan net lekker wees om die aangrensende kuslyn by Portofino aan te pak.

So is ons baie gouer as wat ons verwag het by September 2006.
Hierdie jaar was weersomstandighede baie wispelturig. Philip hou die weervoorspellings fyn dop en toe 'n oop venster verbykom in die week van 17 September val ons vroeg-oggend, te midde van swaar reënwolke oor Monte San Salvatore, in die pad. Verby Milaan, rigting Genoa.

Ter wille van die Aardrykskunde; Ons verlaat die provinsie van Lombardia en steek oor na Liguria. In kontras met die plat groen Po vlakte van Lombardia het jy skielik in Liguria te doen met boomryke heuwels, nou valleie, skerp, kort draaie. Hierdie is “ou” Italië. Dit kan enige buitestaander sien aan die bouvallige heuweldorpies wat uitkyk oor kastanje en olyfbome, handgepakte klipterrasse.Beskawing reeds voor die Romeinse tydperk sê die boeke.
Die dorpies het name wat jou nuuskierig maak; soos “Abbiategrasso” (julle het vet).

Rigting Livorno, 25 km voor Genoa, op een van hierdie skerp draaie kom ons af op 'n motor wat pas gerol het. Dit lê op sy dak, wiele nog al draaiende en die bestuurder wat by die venster uitworstel. Ons gooi ankers uit en is die eerste om by te wees. Dankie VADER die jong man het net 'n klein skrapie op sy kop opgedoen. Philip het dadelik die polisie ontbied en danksy die GPS kon hy presies aandui waar die ongeluk gebeur het. 'n Tweede motor om die draai, gelukkig was daar spasie vir uitdraai en die man het dadelik begin om die aankomende verkeer te waarsku.
Met 'n bewerigheid in die binneste ry ons verder en dis net asof almal nou teen 'n stadiger spoed beweeg. Ook net vir 'n rukkie!!!!

Die kus oos van Genoa is ons mikpunt met die dorpies Camogli, Santa Margherita di Ligure en Portofino. Almal feitlik volmaakte, weggesteekte vissersdorpies aan die Middelandse see. Almal met ‘tromp l’oeil’ fasades en balkonne. 'n Mens vra jouself die vraag , waarom nie sommer 'n regte venster insit vir waarskynlik minder geld as om een te verf met dieselfde versierings en afwerking.Maar natuurlik dit is nie die punt nie, ‘kul die oog’, is amper 'n speletjie. Laat jou weer en weer kyk is dit nou regtig of nie?

Villa Gnocchi, binne loopafstand van Santa Margherita is waar Philip vir ons akkomodasie vir 3 nagte bespreek het. Danksy Roberto Gnocchi (eienaar), se duidelike instruksies vind ons die weggesteekte villa met die baie nou en styl paadjie relatief maklik.

Hierdie is 'n familie besigheid en die tye vir inklok is beperkte ure. Wat was ons verras toe Roberto ons inwag en help met die bagasie. Hy is gesellig en vertel dat die villa aan sy Oupa behoort het en hy mettertyd dit in 'n gastehuis omskep het. Tien kamers met badkamers en klein balkonnetjies is beskikbaar. Alles baie kompak tussen vye, granaat, appel en olyfbome. Tuin van Eeden? Die plantegroei nêrens versteur deur bakstene opmekaar gestapel nie. Bougainvilleas rank wild en baldadig om die balkonne. Wye uitsig oor S Margherita se spesery dakkies en die blou see.

Roberto gee al die nodige inligting en kaarte rondom busse, treine, staproetes en besienswaardighede. Ontbyt is ingesluit en aandete moet bespreek word. Ons bespreek summier vir die eerste aand. Weet teen die tyd wanneer jy met 'n kok van formaat te doen het.
Ons kamer met badkamer is klein, maar keurig met tipies ou Italiaanse meubels. Die dubbelbed is van rooshout. Herinner my aan my klavier.

Ons klim dadelik die triljuisende trappies van die via Romana na S Margherita. 'n Mens wonder waarom Christopher Columbus ooit sy geboorte dorp wou verlaat. Hierdie is een van die mooistes langs die Ligurian kus. Vir hom het hulle 'n besondere standbeeld op die see promenade gebou, asof hy in twee bote op visse en enorme skulpe in die see staan.
Die tuine van Villa Durazzo is aanskoulik met reuse broodbome en palms. Die spuitfonteine en visdammetjies is lewendig met goudvissies en sowaar kleurvolle waterskilpadjies.
Die villa is hoog teen die heuwel met ver uitsigte oor die see. Ons stap die smal klippaadjies en loop vas in 'n skoon kruis met die woorde; ‘Non Abbiate Paura’.In ons moedertaal; ‘Vrees nie’
Langs 'n klein vroulike winkeltjie staan 'n houtbankie met geel geverfde pote en die woorde; ‘patient husband bench’, daarop geverf (ek het dit nie uitgetoets nie).

Dit was 'n sonnige Sondagmiddag met families van oud en jonk op die promenade en die piazzas omring deur die trompe l’oeil geboue. Ons kan nie ophou kyk en die speletjie speel van wanneer is dit regtig en wanneer nie. Wat 'n ‘kuns’!!Natuurlik kan ek nie ophou prentjies maak nie!!

Maandag die 2de dag en Portofino is op die lys. In 1974 het ons vir die eerste keer met hierdie feitlik volmaakte, fotogeniese vissershawe langs die ruwe kuslyn kennis gemaak.
Met Jacques 5 en Evette 3 jaar het ons destyds die moontlike paadjies gestap met soveel as wat jy kan doen met kinders van daardie ouderdom.Portofino was van altyd af net vreeslik mooi met 'n ambience wat jou laat kyk en weer kyk en jou terugroep om weer te kyk.
Natuurlik het dit as eenvoudige vissersdorpie begin, maar is gou uitgesnuffel deur die glansmense van die wêreld. Akteurs soos Sophia Loren , Rex Harrison en wie nog meer. Die seilboot-elite weet ook van Portofino. Minimaal ingepak, maar klein en groot, gooi hul ankers uit.
Hierdie kleine hawetjie kan geen motors akkomodeer nie. Vandag is daar by die ingang 'n parkeerhuis, maar destyds het jy langs die pad parkeer en dan tot by die hawe gestap.
Die vistermanne het vandag nog trompe l’oeil woonstelletjies, dra dik trui van Armani en sit vanmiddag aan vir sy ‘alfresco’ ete in een van die dolce vita kroegies.

Die stap roete vanaf Villa Gnocchi, via S Margherita na Portofino is maklik doenbaar en het ons 3 ure geneem met baie ‘waau’ uitsigte, boomryk en helder waterstroompies.Ons het aangesit vir bruschetta en yskoue bier met 'n gevoel van goed gedaan wat oor ons spoel en die lewendige vertoning wat voor ons afspeel geniet. Italianers, asof altyd besig met opera, wanneer jy sien hoe hulle hande en stemme op en af beweeg in gesprekke. As jy 'n stom Italianer sien moet jy weet sy hande is vasgebind!!

Terug na S Margherita met die veerboot wat jou die geleentheid gee om die landskap vanaf die see te bekyk.
Hiervandaan per bus na Camogli aan die oostekant van die voorgebergte.Camogli, wat beteken ‘die vrouens se huise’, vanwee die mans wat so lank op die see uit was om te vis, is 'n lewendige pastelkleurige vissershawe.Ek haal Charles Dickens aan wat in 1884 Camogli besoek het en dit bestempel as die ‘soutste, ruuste en opperste klein seerowersplekkie’
Dis dan weer hier waar ek die tipiese prentjie van bejaarde mans in 'n ry op 'n lang bankie kry. Hulle is verseker nie trompe l’oeil nie. Sou hulle gesprekke gaan oor wie die meeste, grootste vis daardie dag lank gelede gevang het, of dalk die politiek van vandag?

Dinsdag die 3de dag is dit die baai van San Fruttuoso waar 'n Bendiktynse klooster in die 9de eeu gebou is.
Roberto beskryf hierdie staproete as ‘difficile’ en ek sien hoe sy bruin oë ons in 'n oomblik opsom, asof hy wil sê, miskien moet julle vandag in die skaduwee stil sit en cappuccino drink. Maar nou na alles wat ons al gestap het, wat is nou moeilik?Die groen Michelin gee S Fruttuoso twee sterre en dui tog aan dat die laaste deel moeilik is. Woorde soos ‘most beautifull’ en roerend mooi is net wat ons nodig het om ons te oortuig om te stap.

Ry met die bus van S Lorenzo na Camogli. Hiervandaan volg ons die voetpaadjie wat aangedui word deur twee helder rooi kolle of op die groen mosbegroeide rotse, of op oeroue olyfbome. Dankietog hiervoor.
Die roete begin dadelik steil raak, maar met so baie mooi om jou dat jy dit nie agterkom nie. Pragtige villas met groente en vrugtetuine. Ek hou van die mirte, brame en haakdoringbessies om ons. Tarentale, hoenders en kalkoene op hok, vir die pot, glo ek. Panoramiese uitsigte oor die see na Camogli en sover as Genoa. Ongeveer na 'n uur bereik ons San Rocco met sy trompe l’oeil kerk. Sit aan vir 'n cappuccino by die enigste bar. Alles onvoorstelbaar goed, mooi en reg.

Versterk skuif ons aan vir die tweede skof. Hand omslaan verander alles. Te steil vir weelderige villas. Die bos lê agter en 'n nuwe prentjie van ruwe rotse met min bome, hoog bokant die see vou voor ons oop. Jou hare rys, as jy hoogtes nie kan vat nie, bly weg. Philip en hierdie kettings? Dis nou waaraan jy moet klou vir lewe en dood, my vrou!!
Ek besef dis nou die Portofino wildernis waaroor daar geskryf is.
Hierdie kettings is nie vir sissies nie, maar ek is dankbaar vir die hande wat dit in die granietrotse vasgesit het, want as jou voet teen hierdie skuinste gly, is dit verby!!
Nog hoër kan jy oorblyfsels van die Duitsers se vestings sien. Ek kon nie glo ons klim nog tot daar nie. Dis dan einste hier wat ons 'n blaaskans vat. Darem het ons water botteltjies. Stap in die woestyn het my geleer jy maak net lippe nat. Dis nie vir dors les nie. Vroeg oggend is 4 jongmense by ons verby. Ek besef ons is die enigste twee stappers op daardie tydstip in die Natuurpark. Vir honderde meters kronkel die paadjie van ketting tot ketting hoog bo die Portofino skiereiland.Philip vee sweet met 'n handoek af en ek weet vandag ook wat dit is om te sweet.
Elke keer glo ons lewe is net om hierdie punt, maar dan wag daar nog 'n punt. Hierdie is verseker nie trompe l’oeil nie, dis werklik.
Stadig maar seker het ons geleidelik met haarnaald draaie rem-rem afgedaal.
Na 6 ure en daar is die baaitjie van San Fruttuoso met die abdy afgeslote en ingetrokke te midde van onvoorstelbare natuurskoon.Die see aanloklik met sy deurskynende turqoise water. Ek voel om in die water te spring vir afkoel. Ek wil my voorstel dat die monikke van toeka darem ook soms die gewade afgegooi het en in die water gehang het. Hier is wel besoekers en daar word rustig in die see geswem en op die klippie strand rondgelê. Hier tel ek 'n klippie op vir my Juliana vriendin wat altyd vra ek moet net 'n klippie vir haar saambring.
In my hart sê ek baie dankie liewe VADER ons is in een stuk en dat ek wel 'n klippie kan optel.
Na 'n dubbele ‘gelati’ en lekker sit het ons op die veerboot gespring en salig teruggevaar na Camogli. Waar ons op die boot sit en vanaf die see kyk waar ons geklim en gehang het, verstaan ek wat Roberto met ‘difficile’ bedoel het.Sal ons dit herhaal? Ja, tog wel, maar sal meer voorbereid wees en die roete verkort deur dit van 'n ander punt aan te pak.
Dit is regtig roerend mooi.

Daardie aand het ek my seëninge getel om net te gaan aansit en Roberto se tipies Mediterreense aandete was soos murg oppie palet. Die tiramisu (trek my op), het sy naam gestand gedoen.
Roberto se kommentaar op die wyse wat ons die roete gedoen het was net die van ‘BRAVO’!

So sluit ons September 2006 se stap ondervinding op 'n hoë noot af.


To the top!


footer for Trompe l'oeil page