Valsesia vallei in Piemonte Walser gebied (Im Land)
Deur
Catrien de Bruin©
April
2007
Ons besoek die mees afgesonderde gebied van
Piemonte provinsie in Italië.
Is net die maklikste om by Varese verby te kom,
terwyl almal nog slaap, veral op ‘n Saterdagoggend.
Kies die A26 rigting Romagnano sesia na die
noorde. Baie riviere soos die Ticino, Dora en Po kruis die gebied. Die
Sesia rivier is vir ons ‘n nuwe een om mee kennis te maak. Vandaar die
Valsesia – Sesia vallei. Dorpies het ‘n naam en dan kom ‘sesia’ agterna, soos
Serravalle sesia, Borgo sesia, Romagnano sesia en Alagna Valsesia. Laasgenoemde
is dan ook ons mikpunt om die aand te slaap.
Die mooi begin wanneer ons van die snelweg afklim
en hiermee saam die groot lus vir ‘n regte cappuccino. In een van ‘hand in
die sy’ dorpies lyk Bar Cin-Cin na die ware Jakob. Ons trek aandag, want ons
is nie net onnatuurlik vroeg nie, maar definitief nie van die omgewing nie.
Philip merk op dat hierdie Bar 18 uur uit die 24 uur oop is.
Vriendelike Italiaanse vroukie maak verskoning dat
alles eintlik nog nie opgeruim is nie en ek moet liewer van haar persoonlike
geriewe in haar huis met die trap na bo, gebruik maak. Wat ek toe nie doen
nie. Om te reis is om in te val met die meerderheid.
Met hierdie inspuiting is ons missie die dorpie
Varallo. Wat is ons verras, verbaas om so ‘n stylvolle dorpie hier te
vind. ‘n Straat van negentien-eeuse versorgde villas trek ons aandag.
Volgens Manuela, skryfster van 'n kookboek oor Piemonte wat ons oortuig het om Valsesia te besoek, ontwerp deur ‘n Italiaanse argitek wat vir die Russiese Tsar gewerk
het. Indrukwekkende twee tot drie verdieping geskilderde steen huise.
Varallo is vol kleur en geur van alles wat in die
Lente uitspattig blom. Die keisteen straatjies skielik woelig en gesellig.
Ons stap ons stap, neem fotos en skuif aan na Alagna Valsesia.
Ons klim hoër en hoër. Valsesia is ‘n smal
vallei, oos van Aosta vallei, wat strek tot by die Monte Rosa plato. Alagna
is ‘n ski-oord, waarvandaan jy met die kabelkarretjies tot by Zermatt kan
gaan waar heel jaar genoeg sneeu is om te ski op die gletser. Ons roep
herinneringe terug van ons ski ervaringe in 1983 by Zermatt. Nou soos in
lank-lank gelede toe ons jonk was!!
Die roete langs die breë Sesia rivier is dramaties
met nuwe groen blare in skakerings van groen aan die bome teen die hange.
Paar maande gelede nog vol sneeu en nou stroom die watervalle van bo tot in die
rivier. Bestuur-versigtig bordjies langs die pad wat waarsku teen wilde
diere soos varke, takbokke en kleiner bokke uit die woud kom kort-kort
voor. Die dorpies kry ‘n nuwe uniform van huisies met klip basis en hout
verdiepings. Gekapte klip dakke met regop staal penne om die smeltende sneeu
te bestuur.
Ons was gelukkig om by die Hotel Monte Rosa (gebou
in 1850), blyplek te kry. Laaste naweek wat hulle opereer om vir die lang
somerseisoen te sluit. Pragtige 19de eeuse boustyl met vriendelike
personeel en tipies kos van die omgewing.
Vir middagete loop ons op Manuela se spore en
snuffel met moeite die restaurant Unione Alagnese uit. Die atmosfeer warm en
vriendelik. Ooglopend geen toeriste en die plaaslike mense se kuier-eet plek.
Tortellini gevul met wildsvleis en geurige sous.
Soos net ‘n gesoute Italiaanse kok dit kan voorsit.
Die restaurant is op die grond vloer van ‘n twee
verdieping gebou, waarskynlik vroeër ‘n ou meule . Manuela skryf van die
teater op die boonste vloer. Ons vra die kelnerin daarna en sy bied dadelik
aan om dit vir ons te gaan wys. In 1900 het die ‘Unione Alagnese’ bygedra
om die teater met behulp van ‘n kunstenaar wat ook aan die La Scala van Milaan
gewerk het, moontlik te maak.. Koninlike atmosfeer met 100 rooi sitplekke,
pure fluweel en ten minste drie verskillende verhoog stelle vertel sy. Wys
ook die bord met name en hoeveel elke persoon bygedra het. Party so min soos
1.25 Lire en ander soveel soos 3,000 Lire. Die Lira was sekerlik in 1900
heelwat meer werd as vandag.
Na middagete ry ons met nou kronkelpaadjie na
oorspronklike Walser dorpies, ‘Im Land’, soos dit honderde jare gelede genoem
is deur Swiss/Duitse invloed. Om in hierdie dorpies wat vandag nog bewoon
word te oorleef, moet ‘n kuns wees, want dis nie net afgesonder nie, maar
hoër as 1000 meter. Stel jou voor om hier te oorwinter. Die huisies laat
ons aan Swiss chalets dink. Houtraamwerk rondom waarin hooi gestoor word
vir die koeie. Die grootste vertrek is op die grond gebou waarin die diere oorwinter
en terselfdertyd die res van die huis vir die inwoners warm hou. So ‘n
dorpie is Dosso. Min of meer 10 huise dig opmekaar gebou, groentebeddings
en blomtuine met groen gras, malvas en petunias in die vensterbanke. Antieke
appelbome. Dis nou lente/somer prentjie. In die winter is dit sekerlik ‘n
perdjie met spierwit jassie. Ek drink fonteinwater uit ‘n koper bekertjie
wat aan ‘n ketting by die fontein hang.
SACRO MONTE VAN VARALLO, begin in 1491, is
gebou op ‘n rotsheuwel aan die hange van ‘n berg genaamd Tre Croci op ‘n
hoogte van 600 meter bo seespieël met ‘n asemwegslaan uitsig oor historiese
Varallo, Sesia rivier en omliggende berge en valleie. Hierdie is die mees
indrukwekkendste wat ons beleef het in Italië rondom godsdienstige
uitbeelding van Jesus se lewe .
Die park bestaan uit ‘n Katedraal en 45 Kapelle
met 800 lewensgrote beelde uit hout of terracotta gemaak.. Frescos teen
die mure en plafonne. Gelukkig is elke kapel genommer in volgorde van
Jesus se lewe. Andersins kan jy maklik koers verloor.
Die park is verdeel in twee areas; die eerste
as ‘n park met Renaissance tuine – eksotiese en oeroue bome. Die eerste
Kapel met Adam en Eva (sondeval), hierna aankondiging van Jesus se koms.
So blaai/stap jy deur Jesus se lewe van kapel tot kapel.
Die tweede area op die berg deur ‘n goue hek,
voorstelling van Jerusalem. Jesus se lewe binne die mure van Jerusalem tot
by die Opstanding.
Reels vir besoekers is teen die mure ornamenteel
in Italiaans geverf: Toegang gratis, toon respek deur nie te eet of te mors
nie, gedempte gesprek, mag nie blomme, sampioene of takke pluk nie, geen
geld neersit, nie op die mure skryf of verf nie, geen balle of speletjies nie.
Neem foto’s en los net jou voetspore.
Dit neem min of meer 3 ure om deur te stap.
Ons was beďndruk deur alles wat skoon, netjies en
rustig was. Dit kan sekerlik hewig vol en bedrywig raak met ‘n klomp
pelgrims wat besoek aflę.
Baaaaie kunstenaars het deur die eeue hul talent en
kreatiwiteit op ‘n besondere manier nagelaat om vir elkeen wat hierdeur stap op
‘n visuele manier die wonder en onbeskryflike Genade van ons VERLOSSER, JESUS
CHRISTUS vas te lę.
Ons kan ‘n besoek aan die Sacro Monte di Varallo
aanbeveel. Beskou dit as een van ons hoogtepunte, rondom reis in Italië.
SALVE.
To the top!

|