Valsesia vallei in Piemonte
Walser gebied (Im Land)

Deur Catrien de Bruin©

April 2007

Ons besoek die mees afgesonderde gebied van Piemonte provinsie in Italië.

Is net die maklikste om by Varese verby te kom, terwyl almal nog slaap, veral op ‘n Saterdagoggend.   

Kies die A26 rigting Romagnano sesia na die noorde.   Baie riviere soos die Ticino,  Dora en Po kruis die gebied.   Die Sesia rivier is vir ons ‘n nuwe een om  mee kennis te maak.   Vandaar die Valsesia – Sesia vallei.   Dorpies het ‘n naam en dan kom ‘sesia’ agterna, soos Serravalle sesia, Borgo sesia, Romagnano sesia en Alagna Valsesia.  Laasgenoemde is dan ook ons mikpunt om die aand te slaap.

Die mooi begin wanneer ons van die snelweg afklim en hiermee saam die groot lus vir ‘n regte cappuccino.    In een van  ‘hand in die sy’ dorpies lyk Bar Cin-Cin na die ware Jakob.   Ons trek aandag, want ons is nie net onnatuurlik vroeg nie, maar definitief nie van die omgewing nie.    Philip merk op dat hierdie Bar 18 uur uit die 24 uur oop is.

Vriendelike Italiaanse vroukie maak verskoning dat alles eintlik nog nie opgeruim is nie en ek moet liewer van haar persoonlike geriewe in haar huis met die trap na bo, gebruik maak.    Wat ek toe nie doen nie.    Om te reis is om in te val met die meerderheid.

Villa in Varallo

Met hierdie inspuiting is ons missie die dorpie Varallo.   Wat is ons verras, verbaas om so ‘n stylvolle dorpie hier te vind.     ‘n Straat van negentien-eeuse versorgde villas trek ons aandag.    Volgens Manuela, skryfster van 'n kookboek oor Piemonte wat ons oortuig het om Valsesia te besoek, ontwerp deur ‘n Italiaanse argitek wat vir die Russiese Tsar gewerk het.     Indrukwekkende  twee tot drie verdieping  geskilderde steen huise.

Varallo is vol kleur en geur van alles wat in die Lente uitspattig blom.   Die keisteen straatjies skielik woelig en gesellig.    Ons stap ons stap, neem fotos en skuif aan na Alagna Valsesia.

Ons klim hoër en hoër.   Valsesia is ‘n smal vallei, oos van Aosta vallei, wat strek tot by die Monte Rosa plato.    Alagna is ‘n ski-oord,  waarvandaan jy met die kabelkarretjies tot by  Zermatt kan gaan waar heel jaar genoeg sneeu is om te ski op die gletser.     Ons roep herinneringe terug van ons ski ervaringe in 1983 by Zermatt.    Nou soos in lank-lank gelede toe ons jonk was!!

Die roete langs die breë Sesia rivier is dramaties met  nuwe groen blare in skakerings van groen aan die bome teen die hange.    Paar maande gelede nog vol sneeu en nou stroom die watervalle van bo tot in die rivier.    Bestuur-versigtig bordjies langs die pad wat waarsku teen wilde diere soos varke, takbokke en kleiner bokke uit die woud kom kort-kort voor.     Die dorpies kry ‘n nuwe  uniform van  huisies met klip basis en hout verdiepings.    Gekapte klip dakke met regop staal penne om die smeltende sneeu te bestuur.

Ons was gelukkig om by die Hotel Monte Rosa (gebou in 1850), blyplek te kry.    Laaste naweek wat hulle opereer om vir die lang somerseisoen  te sluit.    Pragtige  19de eeuse boustyl met vriendelike personeel en tipies kos van die omgewing.

Vir middagete loop ons op Manuela se spore en snuffel met moeite die restaurant Unione Alagnese uit.   Die atmosfeer warm en vriendelik.  Ooglopend geen toeriste en die plaaslike mense  se kuier-eet plek.

Tortellini  gevul met wildsvleis en  geurige  sous.    Soos net  ‘n  gesoute Italiaanse kok dit kan voorsit.

Die restaurant is op die grond vloer van ‘n twee verdieping gebou,  waarskynlik vroeër ‘n ou meule .   Manuela skryf van die teater op die boonste vloer.    Ons vra die kelnerin daarna en sy bied dadelik aan om dit vir ons te gaan wys.    In 1900 het die  ‘Unione Alagnese’ bygedra  om die teater met behulp van ‘n kunstenaar wat ook aan die La Scala van Milaan gewerk het, moontlik te maak..     Koninlike atmosfeer met  100 rooi sitplekke, pure fluweel en ten minste drie verskillende verhoog stelle vertel  sy.   Wys ook die bord met name en hoeveel elke persoon bygedra het.    Party so min soos 1.25 Lire en ander soveel soos 3,000 Lire. Die Lira was sekerlik in 1900 heelwat meer werd as vandag.

Im Land dorpie Dosso

Na middagete ry ons met nou kronkelpaadjie na oorspronklike Walser dorpies,  ‘Im Land’,  soos dit honderde jare gelede genoem is deur Swiss/Duitse invloed.    Om in hierdie dorpies wat vandag nog bewoon word te oorleef,  moet ‘n kuns wees,  want dis nie net afgesonder nie, maar hoër as 1000 meter.    Stel jou voor om hier te oorwinter.    Die huisies laat ons aan  Swiss chalets dink.    Houtraamwerk  rondom waarin hooi gestoor word  vir die koeie.  Die grootste vertrek is op die grond gebou waarin die diere oorwinter en terselfdertyd die res van die huis vir die inwoners warm hou.     So ‘n dorpie is Dosso.   Min of meer 10  huise dig opmekaar gebou,  groentebeddings en blomtuine met groen gras,  malvas en petunias in die vensterbanke.   Antieke appelbome.    Dis nou lente/somer prentjie.    In die winter is dit sekerlik ‘n perdjie met spierwit jassie.     Ek drink  fonteinwater uit ‘n  koper bekertjie wat aan ‘n ketting by die fontein hang.

SACRO  MONTE   VAN  VARALLO,  begin in 1491, is gebou op ‘n  rotsheuwel  aan die hange van ‘n berg genaamd Tre Croci op ‘n hoogte van 600 meter bo seespieël met ‘n  asemwegslaan uitsig oor  historiese  Varallo,  Sesia rivier  en omliggende berge en valleie.     Hierdie is die mees indrukwekkendste  wat ons beleef het in Italië rondom   godsdienstige uitbeelding van Jesus se lewe .

Figure by Sacra Monte di Varallo

Die park bestaan uit ‘n Katedraal  en 45  Kapelle  met  800 lewensgrote beelde uit hout  of  terracotta  gemaak..   Frescos teen die mure en plafonne.      Gelukkig is elke kapel genommer in  volgorde van Jesus se lewe.      Andersins kan jy maklik koers verloor. 

 Die park is  verdeel in twee areas;    die eerste as ‘n park met Renaissance tuine – eksotiese  en   oeroue bome.    Die eerste Kapel met Adam en Eva  (sondeval),  hierna aankondiging van Jesus se koms.    So  blaai/stap jy deur  Jesus se  lewe van  kapel tot kapel.

Die  tweede area op die berg deur ‘n goue hek, voorstelling van Jerusalem.    Jesus se lewe binne die  mure van Jerusalem  tot by die Opstanding.

Reels vir besoekers is  teen die mure ornamenteel in Italiaans geverf:    Toegang gratis, toon respek deur nie te eet of te mors nie,  gedempte gesprek,  mag nie blomme, sampioene of takke pluk nie,  geen geld neersit,  nie op die mure skryf of verf nie,   geen balle of speletjies nie.   Neem foto’s en los net jou voetspore.

Dit neem min of meer 3 ure om deur te stap.

Ons  was  beďndruk deur alles wat skoon, netjies en rustig was.     Dit kan sekerlik hewig vol en bedrywig raak met ‘n klomp pelgrims wat besoek aflę.

Baaaaie kunstenaars het deur die eeue hul talent en kreatiwiteit op ‘n besondere manier nagelaat om vir elkeen wat hierdeur stap op ‘n visuele manier  die wonder en onbeskryflike Genade van ons VERLOSSER,  JESUS CHRISTUS  vas te lę.

Ons kan ‘n besoek aan die Sacro Monte di Varallo aanbeveel.    Beskou dit as een van ons hoogtepunte, rondom reis in Italië.

SALVE.


To the top!


footer for valsesia page