Venesië deur my kameralens
Deur Catrien de Bruin©
April 2006
Hoe gebeur dit? Ons is
veertig jaar getroud en wil graag iets spesiaals doen. Nadese weet ons dat om
te reis vir beide van ons werk. Ons het baie opsies oorweeg, maar niks wil
in plek val nie.
Wat van ʼn fotografiese werkswinkel? Bruidegom
hou van die idee en navorsing op die Internet begin. In Campione omgewing
is drie moontlikhede.......die mere distrikte van Italië, Toskane of Venesië
- koningin van die Adriatiese see het eindelose moontlikhede...... gekleurde
water, paleise, torings, duiwe soos in baie, kanale, brûe, bote, gondolas,
glas, kos en wat nog meer. Hier kom ons!
“School of seeing
Veniceworkshop” deur Mario Mazziol, gebore en getoë in Venesië, trek ons
aandag. Mario reageer onmiddellik op ons navrae en is beskikbaar in die tyd
wat ons pas.
Vroegoggend terwyl die
Milanese nog slaap gly ons by Milaan verby op pad na Venesië. Die “bruid”
blom, want “Parco Sigurta Giardino,” waarvan sy lankal gelees het, lê juis op
hierdie pad en word nou ʼn werklikheid.
Parco Sigurta is een van die
wêreld se vyf grootstes, aangelê in 1617. Jy kan op die treintjie spring en
die 560,000 vierkante meter in 2 ure doen vir die prys van ʼn cappucino.
As jy ʼn reismier is, kies jy die cappucino en stap die park in jou eie
tyd. Dis lente en alles wat kan blom doen dit met oorgawe. Die informele
tulpevelde onder eeu oue eike bome is vir my die mooiste. Die grasperke lyk
soos golfbane. Meer en meer mense kom aan, piekniekmandjies op geblomde lappe
word oral oor oopgegooi, oud en jonk kuier saam. Twee van ten minste tien
reëls vir die park sê geen balle of swemklere nie!! Parco Sigurta is ʼn
uitstappie werd, ons neem mooi prentjies en herinneringe saam.
Die autostrada na Venesië eindig
in die Piazzale Roma. Hier los ons vir swart karretjie in seker die grootste
parkeerhuis in Italië. In ʼn stad sonder paaie is ʼn motor van geen
waarde nie. Dis ʼn onaantreklike gebied en sekerlik nie die beste manier
om Venesië te benader nie.
Daar is nooit ʼn keer
soos die eerste keer nie. Twee en dertig jaar gelede met Jacques 5 en Evette 3 jaar het ons in Venesië met die trein aangekom. Hierdie indrukke van ʼn
stad op water sal ons nooit vergeet nie.
Om met jou sleeptassie
tussen al die ander toeriste met bagasie op die vaporetto (waterbus) te kom is ʼn
uitdaging. Die wiegende wagkamer op water is oorvol en jy moet jou staan en
balans so uitwerk dat jy nie agter bly nie.
Ons is gelukkig om ʼn
staanplek met mooi uitsig op die Grand Canal te kry. Ligte wind beweeg die
kanaal en skielik is dit ʼn warboel van bote, gondolas met gondeliers in
hul blou of rooi streep hemde, gestreepte vasmeer pale, paleise, kerke,
geboue, brûe. Asof alles en almal presies weet hoe om water te hanteer. Die
aanskoulike Rialto brug is ons afspring plek en dan deur die nou stegies na die
Hotel Serenissima. Ons is geseënd met die kleine hotel, tussen die San
Markus plein en die Rialtobrug. Keurig en skoon met eie badkamer. Bestuur
deur die familie Dal Borgo sedert 1960. Die oumatjie wat ontbyt bedien is
so vriendelik en vlytig.
Die Venesiese Republiek het
vir meer as ʼn
duisend jaar bestaan. Dit was ʼn soort van ʼn demokrasie waar geen
enkele persoon toegelaat is om te veel mag te hê nie. Dit het die bynaam
verwerf van La Serenissima – The Most Serene Republic. Baie besighede gebruik
die naam.
Klokslag 9h00 soos ooreengekom
die oggend ontmoet ons Mario Mazziol in die voorportaal van die hotel. Ek
het onmiddellik geweet ek sal drie dae saam met hierdie fotograaf kan stap.
As jy wonder hoe dit gebeur, moet jy weet dis ʼn “wonderwerk!” Mario is ʼn
afgetrede chemiese ingenieur wat oor die wêreld gewerk het, o.a. Nigerië.
Fotografie was altyd sy
stokperdjie en nou is hy professionele fotograaf met eie werkswinkel.
Mario stel voor dat ons
dadelik die vaporetto na Burano neem, want die lig is vandag perfek. Vir
ons ʼn eerste keer en Philip val ook in met sy nuwe Sony video kamera.
Burano is die juweel van die
Venesiese lagune. Die huisies ingeryg soos krale is in al die kleure van
die palet. Ek dink hier sal jy nie in terme van nommers praat nie, maar van
kleure...... Maria in die borriegeel huis of Martha van die turqoise huis. Elektriese
weerkaatsing in honderde kleure in die water, is so mooi soos ʼn droom
waarin jy nie wil wakker word nie. Vroukies kwetter soos voëltjies in die
stegies, besig om wasgoed uit te hang, want ook hiervoor is die lig vandag
perfek. Nuwe wêrelde gaan vir my oop......lig en skaduwee, komposisie,
objekte, mense..... Mario is die perfekte geduldige leermeester.
Ooglopend is hy bekend in
Burano, want toe ons 4 ure later , flou , honger en dors in ʼn trattoria
inval, word hy met ʼn handgroet verwelkom. Uiteraard eet jy vis in ʼn visserdorpie.
“Fruta di mare”, vrugte van die see was lanklaas so gewaardeer.
Burano, soos Pisa, het selfs
ook ʼn leunende toring.
Daardie aand toe bruid en
bruidegom die bed slaan, was Philip se kommentaar: Hierdie oefening gaan ʼn
toets wees vir enige energieke stapper. Agt ure ʼn dag, beteken 15 tot
20 km.
Dinsdag 25 April is
Nasionale volksdag vir Venesië. Dis ʼn bonus, ons het dit nie geweet
nie. Mario stoot my in die voorgestoeltes in, waarvandaan ek ʼn perfekte
prentjie op die hys van die vlae, die verhoog met die belangrikes, die groep
in Victoriaanse drag en die optog van vloot, polisie en weermag kan kry. Dit
alles met die kleurvolle en dramatiese kerk van Markus in die agtergrond. Sing
van die volkslied in perfekte buitelug akoestiek het my hartsnare geraak en
alhoewel my voete in Venesië staan, was my hart in Hartland. Alles was so
plegtig, stylvol sonder oordaad.
Vandag loop Philip op die
spore van H.V. Morton en Mario neem my na die Venesië wat nie vir die toeris
bestaan nie. Hieroor kan ek ʼn hoofstuk skryf. Uiteraard ken Mario sy
geboorte dorp se geskiedenis , wat ʼn perfekte kombinasie van gids en
fotograaf tesame.
Waarom staan die leeu van
St. Markus met sy voorpoot soms op ʼn oop boek en soms op ʼn toe boek
en wat beteken die woorde in Latyn op die oop boek? Die woorde sê: “Vrede
vir jou Markus, my Evangelis”. Die beelde van die leeu met die oop boek was gemaak
tydens vrede en met die toe boek tydens oorlog. Danksy Mario weet ek dit nou
ook.
Ons stap deur poorte, oor
kanale, trappe op oor bruggies en trappe af. Die smalste stegie. Ek leer
van die “secret gardens of Venice”. Die plons geluid van die gondelier se
spaan wat sy swart skulp geluidloos oor die water laat gly, is altyd teenwoordig.
Die roep om ander gondeliers te waarsku is iets soos “Oi!”
Teen 17h00 is ons weer terug
in die omgewing van ons hotel. Daar is tyd vir ʼn stukkie bene innie
lug, stil raak, oë toemaak en dankie sê vir VADER vir soveel belewenisse.
Met nuwe krag, doen ons die
passegiata en terselfdertyd jag ons op Frommer se aanbeveling, vir ʼn
tipies Venesië trattoria waar die volk eet. Dis nie net goedkoper nie,
maar ook baie eie aan die eiland. Vissop of een van die verskeie
variasies van ʼn kombinasie van vrugte van die see. Pasta met
olyfolie, knoffel, pietersielie en rooi pepers. “Fegato alla veneziana” is
mama se resep vir kalfslewer met uie en polenta.
Die derde dag skop af met
die groente en vismark Die oudste kerk in Venesië staan hier by die
mark. Die horlosie met Romeinse syfers sê dis 9 uur wat sê die horlosie werk
steeds, want dit was presies die tyd op daardie oomblik.
Julle, die groente-vrugte
mark is by my verwysingsraamwerk verby. Alles is baie-baie vars en word met
soveel respek hanteer en uitgestal..... die aspersies lyk soos saamgebinde
koringgerwe. Ten minste 5 verskillende soorte tamaties, die slaai in alle skakeringe
van groen. En dit alles op ʼn eiland!! En toe sien ek dit.... die
blou-swart druiwetrosse uit Sud-Africa !! Kyk Mario kyk!!! Kon ek nie help
om te skree nie. Hy lag lekker en sê sy gebruiklike “shoot!!”, nadat hy die
Sud-Africa etiket mooi reggestel het, gee hy my die regte aanmoediging om te
skiet; was darem baie lus vir ʼn ou korreltjie, maar waag dit nie.
En toe die vismark...... ons
staan in verademing..... soveel van verskeidenheid en geen visreuk!! Soort
by soort uitgestal....... ek dink dadelik dis dan wat ons SKEPPER op die 5de
dag gedoen het. In Genesis 1:22 staan geskryf: Toe het God hulle geseën:
“Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see”. Hier is
hulle almal voor my ; “vrugte van die see”. Toe ons later die middag by die
mark verby loop, was alles opgeruim, nie ʼn verlore slaaiblaar of sardinkie
wat agtergebly het nie. Waaauu!!
Campione se jaarlikse
seremonie van twee weke gelede om alles wat in die meer leef en van die meer
leef te seën deur gebed en krans op die water te gooi, speel weer helder voor
my af. Gepaard hiermee kry almal teenwoordig ʼn bakkie gratis vissies met
suurlemoen, droë chippies en ʼn klein blokkie sjokolade.
Die res van die dag word aan
ʼn paar “poskaart” prentjies gewy, waarvan Mario nie ʼn voorstander is
nie, maar verstaan dat ʼn toeris dit nodig het. So kom die Grand Canal,
Rialto brug en die Piazza S. Markus ook aan die beurt.
Ek geniet die massa duiwe
wat deur die toeriste gevoer word en kameras wat click vir die beste
prentjie. Waarom sien jy nooit ʼn kat wat ʼn duif in Venesië bekruip
nie ? Seker word die kleintjies geleer om ander pad te kyk!!
Op hierdie hoë noot eindig ʼn
onvergeetlike belewenis vir beide van ons. Bedank Mario met opregte oorgawe,
want hy het baie daartoe bygedra.
Bruid en bruidegom doen die
sonsondergang op ʼn vaporetto wat ons letterlik om die eiland neem.
Aanskoulik en opwindend. Die aand was dit groot soek vir ʼn
trattoria. Leer dat Woensdag aande vir menige kok ʼn af-aand is.
Dis die 5de dag en ons groet
om terug te val in die werklikheid van baie motors en snelpaaie. Die autostrada
was ʼn reisiesbaan, maar die bruidegom is baie vaardig en geoefen.
Ons arriveer veilig in Campione nessie.
Al die eer aan ons VADER wat
saam met ons reis.
Arrivederci, de Bruinkies.
To the top!

|