Villa Balbianello (Lenno)
Deur Catrien de Bruin©
Maart 2008
Van al die Italiaanse mere het Comomeer sekerlik die grootste verskeidenheid van karaktervolle dorpies, miniatuur hawens, indrukwekkende villas in eksotiese skaduryke tuine. Villa Balbianello, regoor Bellagio aan die westekant, is een van die villas wat vandag nog gebruik word vir privaat funksies. Ons het in die dorpie Lenno parkeer en die styl opdraande tussen skaduryke bome gestap tot by die villa , geleë op ‘n skiereiland teen ‘n hoë bult. Stap fluks en jy kan dit binne ‘n half uur doen. Jy kan ook per boot vanaf Lenno binne paar minute die villa bereik.
Balbianello is in die laat 1700s gebou – hierdie villa is relatief klein in vergelyking met baie ander langs die meer. Die tuin is ‘n ‘meesterstuk’ – eeu-oue bome in die vorm van sambrele (wie snoei hierdie bome). Wisterias en ivy rankers krul kunstig om pilare. Verskeie beeldhouwerke op strategiese punte, rond die geheel mooi af. Hier is die tuiniers ook kunstenaars en verdien hulle die titel van Maestri!
Tuin van Eden. Bankies staan rond en nooi jou om rustig te raak en net na die verloklike skakerings van die blou meer te kyk – met die misterieuse wasigheid wat oor die vlakke berge hang.
Tipies van ‘n Saterdag in Italië is daar altyd ‘n bruid met gevolg wat blom en poseer vir die fotograwe in idilliese omgewing. Ons sluit af met ‘n lekker piekniek uit rugsakkie - viva la cucina italiana!! To the top!
|