Wald im Pinzgau - 2005

Deur Catrien de Bruin©

Julie 2005

Wald in Oostenryk, lê aan die rand van een van die grootste natuurparke van Europa, nl. Hohe Tauern.    In die park lê die hoogste piek van  Oostenryk, nl, die GrossGlockner (3789 m), die langste gletser van die Alpe in die ooste.    Die hoogste waterval in Europa, die Krimmler.    Onvoorstelbaar, maar in die park kom steeds baie wilde diere voor, waarvan die Alpesteenbok die beste verteenwoordig is.   Die wilde bergskape pas goed aan.   Die Alpemarmot  is heel gewoond aan mense, maar kan soms ook baie sku wees.

In Wald 900 m en omgewing lê die boomgrens tussen 1850 en 2000 m.   Hoofsaaklik naaldbome.   Daarna begin die gebied van die alpenrosies (azaleas) en die bergweiding waar die koeie in die somer hul vryheid geniet.

Wat sien en beleef ons as Afrikane in ‘n klein boerdery gemeenskapsdorpie,  geleë in die Pinzgau vallei omring deur majestieuse berge?

Dis ons beskore om vir die tweede keer in chalet Kathleen tuis te gaan, ‘n ontwikkeling deur “Chaletsplus”.

Waar ‘n uitgebreide familie van 14 ruim kan slaap.     Die twee van ons nogals effens uit ons kassie vir ‘n rukkie met so baie spasie.    Ons kies om  bo in die dak te slaap asof tussen die bome met ‘n hemelse uitsig oppie bergpieke,  met lappies spierwit sneeu van laas winter nog steeds daar heelbo.   Dit sê, alhoewel hierdie somer is, moet jy net weet dis nog steeds yskoud daar bo.    Ons leef,  maak kos en kyk televisie(vir ons ‘n luukse), op die grondvloer.     Onder in die kelder is vier ruimslaapkamers met  groot dubbele badkamer met ‘n lekker warm vloer vir die kaal voetjies.   So reg na my smaak!!!!

Ons leer dat ‘n “prullebak” ‘n snippermandjie is.

Die kombuis is toegerus met alles wat oop en toe maak en vyf ster met alles wat ‘n vroukie se hart begeer.    Sit nie my hande  aan die skottelgoed nie.   Skakel Gorenje aan wanneer dit ons pas .  Alleswat deur sy/haar hande gaan is blinkskoon.

Philip verlustig, verkyk, bewonder die afwerking……geen tierlantyne nie, ‘n elegante eenvoud dwarsdeur die bank met so ‘n subtiele kombinasie van  kwaliteit en prakties gekombineer.

Steek jou neus by die deur uit en ‘n ieder en elk wat jou teekom , groet met ‘n vriendelike kopknik;  “Grüss Gott”.    

In die Spar is ons behoorlik ontsenu, want elkeen van die drie personeellede kom vra wat ons nodig het.

Die kerkklokke jubel en juig  van vroeg oggend tot saans.

Berge, blomme, bome, helder waterstrome is hier nie net woorde in ‘n liedjie wat ek kleintyd gesing  het nie.    Dis hier om ons.   Ons stap lang stukke tussen die boerderye, blommetjievelde, wat  in groen grasperke verander wanneer die boer met sy trekter en snymasjien daardeur is.    Dan kom die gesin, nooit meer as drie of vier en die gras word bymekaar gehark met ‘n enorme houthark.    Dan kom die baalmasjien wat alles oprol en toevou in plastiek en so word kos vir die lang winter, wanneer alles onder die sneeukombers rus, gestoor.

Ons stap graag die woudpaadjies,  lekker verdwaal, bly Philip loop voor!!

Die bome se toppe raak aan die hemel voel dit vir my en ek ‘n miertjie wat op die naaldbedde loop….so sag, dat Philip kort-kort omkyk om seker te maak of ek nog daar is.   Net toe ek myself  “broers Grimm” se sprokieswêreld inskuif, sit die kabouters met hul pikke en grawe en fyn wit klippies in die mosbegroeide uitgeholde boomstomp, om die draai.    Eekhorinkies en beertjies in die vorm van sagte speelgoed tussen die varings en pers alpeviooltjies.    Ja en sowaar daar skuil die wilde diere ook…. jy moet mooi kyk… dis  ‘n kameel, takbok, beer, olifant en helaas ook ‘n leeu en ‘n kameelperd.   Hierdie oukie het verseker iets oor Afrika gelees.    

Dis alles speelgoed wat deur die boerdery kindertjies hier ingepak word en verseker kom hulle weer en weer, en leef in hul eie fantasie wêreld.

Net as ons dink ons het nou alles beleef, dan kom jong vroukies en hul kinders met mandjies onder die arms uit die woudpaadjies…..ek dag dis sampioene, maar nuuskierig loer ek en hulle wys my dis bessies en brame.    Sekerlik kom dit in ‘n bessie/braam nagereg of tert vir more se tee okasie.     Kyk rond en ja daar is dit , asof verskuil agter die plante .   Jy moet net weet waar en waarvoor om te soek en jy maak jou mandjie vol nagereg saam met room vanaand.

Philip hier:

Die Italianers trek hul neuse op vir mense wat nie hul stede en vestings met klip bou nie. Die ‘barbaarse’ stamme wat Italië vanaf die Noorde ingeval het voor en tydens die middeleeue was bosbewoners. Een van die Italiaanse benaminge vir ‘n vreemdeling is nog steeds ‘forestiero’ – hy wat uit die bos uit kom! Moontlik waar die Engelse woord ‘foreigner’ vandaan kom. Hierdie Noordelike stamme het met hout  gewerk. Soos in byna alles uit hout vervaardig.

Dit is dan ook wat my geweldig beïndruk van Oostenryk. Die kwaliteit en afwerking van enigiets uit hout vervaardig. En die byna 40% van Oostenryk se oppervlakte wat hoofsaaklik met conifers beplant is. Die reel is dat as jy ‘n boom oes of uithaal moet jy ‘n nuwe een in sy plek plant!

Ons chalet is maklik 50% hout. Al die meubels is uit dieselfde hout gemaak as byvoorbeeld die vensterbanke. Die slaapkamerkaste het presies dieselfde afwerking en handvatsels as die kombuiskaste. Die modernste kombuis toebehore is alles in die hout kaste ingebou – soveel so dat jy aanvanklik soek om die yskas te vind! Die bou-ervaring wat ons in SA ken bestaan net nie hier nie. Hier word ‘n huis gebou om ‘n 100 jaar te staan. Ek het met ‘n baie kritiese oog gesoek om net een plek te kry waar die houtwerk en afwerking nie perfek is nie. Ek het dit ook gekry! In die laai onder die oond waar die skinkbord gebêre word het hulle die bodem op twee plekke skuins geboor sodat hulle die skroewe wat die handvatsel vashou kon indraai – en vergeet om dit weer op te vul. Op al die ander plekke is die skroef koppe of gleuwe sodanig toegemaak dat jy onseker is waar die gate of gleuwe was.

Hier is wel baie graniet ook, maar dit word in die fondasies gebruik en om skerm mure te bou wat verhoed dat die grond in die pad spoel.

Om alles te kroon het die wêrelwye eiendoms boom nog nie Oostenryk getref nie. ‘n Groot uiters luukse chalet in Wald kos minder as wat ‘n ekwivalente huis vandag in byvoorbeeld Stellenbosch of omgewing sou kos!

Ons aanskou ‘n robot grassnyer. Ek het al gelees hiervan, maar nog nooit aanskou nie. Sal nie in SA werk nie. Jy los die grassnyer op die gras dag en nag. In Oostenryk sal niemand dit steel nie! Dit sny seker 1mm gras op ‘n slag, maar dit loop die heel tyd oor die grasperk. Wanneer die battery begin pap word gaan dit na sy eie dok waar die battery weer laai. Wanneer vol vertrek die grassnyer outomaties en begin weer sny. Geluidloos! Hoe hulle dit doen weet ek nog nie, maar as hy by die rand van die grasperk kom stop hy. Hier is geen heining of randsteen nie en ek het gedink die grassnyer gaan in die straat in loop. Maar toe dit by die rand kom stop dit, draai netjies om, en sny ‘n ander streep op die grasperk. Nodeloos om te sê, die grasperk lyk nie soos ‘n pas gesnyde grasperk nie. Dit lyk soos ‘n grasperk met gras wat sy pefekte lengte bereik het.

Elke Vrydagaand in die somer tree die dorpie se blaasorkes op. Die hele dorpie is daar. ‘n Klein markie wat plaaslike käse, brot, en würste verkoop asook bier en wyn. Dit is so ‘n gesellige atmosfeer. Baie mense het hulle volksdrag aan en selfs die kinders hardloop rond asof aangetrek uit ‘n vorige eeu. Ek en Catrien het op ‘n bankie gesit en na die musiek geluister en die ambience ingedrink.

Vyf dae voordat ons in Wald aangekom het het die vallei ‘n geweldige reën neerslag beleef. Die trienspoor is weggespoel deur die Salzach rivier wat sy walle oorstroom het met heelwat skade aan van die weilande. Mittersil was onder ‘n meter water en die meeste winkels was in die proses om die beskadigde voorraad te verkoop en op te ruim.

Wald im Pinzgau is vatbaar vir herhaling.    Wie weet?


To the top!