Wald im Pinzgau - 2005
Deur Catrien de Bruin©
Julie
2005
Wald in Oostenryk,
lê aan die rand van een van die grootste natuurparke van Europa, nl. Hohe
Tauern. In die park lê die hoogste piek van Oostenryk, nl, die
GrossGlockner (3789 m), die langste gletser van die Alpe in die ooste. Die
hoogste waterval in Europa, die Krimmler. Onvoorstelbaar, maar in die park
kom steeds baie wilde diere voor, waarvan die Alpesteenbok die beste
verteenwoordig is. Die wilde bergskape pas goed aan. Die Alpemarmot is
heel gewoond aan mense, maar kan soms ook baie sku wees.
In Wald 900 m en
omgewing lê die boomgrens tussen 1850 en 2000 m. Hoofsaaklik naaldbome.
Daarna begin die gebied van die alpenrosies (azaleas) en die bergweiding waar
die koeie in die somer hul vryheid geniet.
Wat sien en beleef
ons as Afrikane in ‘n klein boerdery gemeenskapsdorpie, geleë in die Pinzgau
vallei omring deur majestieuse berge?
Dis ons beskore om
vir die tweede keer in chalet Kathleen tuis te gaan, ‘n ontwikkeling deur “Chaletsplus”.
Waar ‘n uitgebreide
familie van 14 ruim kan slaap. Die twee van ons nogals effens uit ons
kassie vir ‘n rukkie met so baie spasie. Ons kies om bo in die dak te slaap
asof tussen die bome met ‘n hemelse uitsig oppie bergpieke, met lappies spierwit
sneeu van laas winter nog steeds daar heelbo. Dit sê, alhoewel hierdie somer
is, moet jy net weet dis nog steeds yskoud daar bo. Ons leef, maak kos en
kyk televisie(vir ons ‘n luukse), op die grondvloer. Onder in die kelder is
vier ruimslaapkamers met groot dubbele badkamer met ‘n lekker warm vloer vir
die kaal voetjies. So reg na my smaak!!!!
Ons leer dat ‘n
“prullebak” ‘n snippermandjie is.
Die kombuis is
toegerus met alles wat oop en toe maak en vyf ster met alles wat ‘n vroukie se
hart begeer. Sit nie my hande aan die skottelgoed nie. Skakel Gorenje aan
wanneer dit ons pas . Alleswat deur sy/haar hande gaan is blinkskoon.
Philip verlustig,
verkyk, bewonder die afwerking……geen tierlantyne nie, ‘n elegante eenvoud
dwarsdeur die bank met so ‘n subtiele kombinasie van kwaliteit en prakties
gekombineer.
Steek jou neus by
die deur uit en ‘n ieder en elk wat jou teekom , groet met ‘n vriendelike
kopknik; “Grüss Gott”.
In die Spar is ons
behoorlik ontsenu, want elkeen van die drie personeellede kom vra wat ons nodig
het.
Die kerkklokke
jubel en juig van vroeg oggend tot saans.
Berge, blomme,
bome, helder waterstrome is hier nie net woorde in ‘n liedjie wat ek kleintyd
gesing het nie. Dis hier om ons. Ons stap lang stukke tussen die
boerderye, blommetjievelde, wat in groen grasperke verander wanneer die boer
met sy trekter en snymasjien daardeur is. Dan kom die gesin, nooit meer as
drie of vier en die gras word bymekaar gehark met ‘n enorme houthark. Dan
kom die baalmasjien wat alles oprol en toevou in plastiek en so word kos vir
die lang winter, wanneer alles onder die sneeukombers rus, gestoor.
Ons stap graag die
woudpaadjies, lekker verdwaal, bly Philip loop voor!!
Die bome se toppe
raak aan die hemel voel dit vir my en ek ‘n miertjie wat op die naaldbedde
loop….so sag, dat Philip kort-kort omkyk om seker te maak of ek nog daar is.
Net toe ek myself “broers Grimm” se sprokieswêreld inskuif, sit die kabouters
met hul pikke en grawe en fyn wit klippies in die mosbegroeide uitgeholde
boomstomp, om die draai. Eekhorinkies en beertjies in die vorm van sagte
speelgoed tussen die varings en pers alpeviooltjies. Ja en sowaar daar skuil
die wilde diere ook…. jy moet mooi kyk… dis ‘n kameel, takbok, beer, olifant
en helaas ook ‘n leeu en ‘n kameelperd. Hierdie oukie het verseker iets oor
Afrika gelees.
Dis alles speelgoed
wat deur die boerdery kindertjies hier ingepak word en verseker kom hulle weer
en weer, en leef in hul eie fantasie wêreld.
Net as ons dink ons
het nou alles beleef, dan kom jong vroukies en hul kinders met mandjies onder
die arms uit die woudpaadjies…..ek dag dis sampioene, maar nuuskierig loer ek
en hulle wys my dis bessies en brame. Sekerlik kom dit in ‘n bessie/braam
nagereg of tert vir more se tee okasie. Kyk rond en ja daar is dit , asof
verskuil agter die plante . Jy moet net weet waar en waarvoor om te soek en
jy maak jou mandjie vol nagereg saam met room vanaand.
Philip hier:
Die Italianers trek
hul neuse op vir mense wat nie hul stede en vestings met klip bou nie. Die
‘barbaarse’ stamme wat Italië vanaf die Noorde ingeval het voor en tydens die
middeleeue was bosbewoners. Een van die Italiaanse benaminge vir ‘n vreemdeling
is nog steeds ‘forestiero’ – hy wat uit die bos uit kom! Moontlik waar die
Engelse woord ‘foreigner’ vandaan kom. Hierdie Noordelike stamme het met hout
gewerk. Soos in byna alles uit hout vervaardig.
Dit is dan ook wat
my geweldig beïndruk van Oostenryk. Die kwaliteit en afwerking van enigiets uit
hout vervaardig. En die byna 40% van Oostenryk se oppervlakte wat hoofsaaklik
met conifers beplant is. Die reel is dat as jy ‘n boom oes of uithaal moet jy
‘n nuwe een in sy plek plant!
Ons chalet is
maklik 50% hout. Al die meubels is uit dieselfde hout gemaak as byvoorbeeld die
vensterbanke. Die slaapkamerkaste het presies dieselfde afwerking en
handvatsels as die kombuiskaste. Die modernste kombuis toebehore is alles in
die hout kaste ingebou – soveel so dat jy aanvanklik soek om die yskas te vind!
Die bou-ervaring wat ons in SA ken bestaan net nie hier nie. Hier word ‘n huis
gebou om ‘n 100 jaar te staan. Ek het met ‘n baie kritiese oog gesoek om net
een plek te kry waar die houtwerk en afwerking nie perfek is nie. Ek het dit
ook gekry! In die laai onder die oond waar die skinkbord gebêre word het hulle
die bodem op twee plekke skuins geboor sodat hulle die skroewe wat die
handvatsel vashou kon indraai – en vergeet om dit weer op te vul. Op al die
ander plekke is die skroef koppe of gleuwe sodanig toegemaak dat jy onseker is
waar die gate of gleuwe was.
Hier is wel baie
graniet ook, maar dit word in die fondasies gebruik en om skerm mure te bou wat
verhoed dat die grond in die pad spoel.
Om alles te kroon
het die wêrelwye eiendoms boom nog nie Oostenryk getref nie. ‘n Groot uiters
luukse chalet in Wald kos minder as wat ‘n ekwivalente huis vandag in
byvoorbeeld Stellenbosch of omgewing sou kos!
Ons aanskou ‘n
robot grassnyer. Ek het al gelees hiervan, maar nog nooit aanskou nie. Sal nie
in SA werk nie. Jy los die grassnyer op die gras dag en nag. In Oostenryk sal
niemand dit steel nie! Dit sny seker 1mm gras op ‘n slag, maar dit loop die
heel tyd oor die grasperk. Wanneer die battery begin pap word gaan dit na sy
eie dok waar die battery weer laai. Wanneer vol vertrek die grassnyer
outomaties en begin weer sny. Geluidloos! Hoe hulle dit doen weet ek nog nie,
maar as hy by die rand van die grasperk kom stop hy. Hier is geen heining of
randsteen nie en ek het gedink die grassnyer gaan in die straat in loop. Maar
toe dit by die rand kom stop dit, draai netjies om, en sny ‘n ander streep op
die grasperk. Nodeloos om te sê, die grasperk lyk nie soos ‘n pas gesnyde
grasperk nie. Dit lyk soos ‘n grasperk met gras wat sy pefekte lengte bereik
het.
Elke Vrydagaand in
die somer tree die dorpie se blaasorkes op. Die hele dorpie is daar. ‘n Klein
markie wat plaaslike käse, brot, en würste verkoop asook bier en wyn. Dit is so
‘n gesellige atmosfeer. Baie mense het hulle volksdrag aan en selfs die kinders
hardloop rond asof aangetrek uit ‘n vorige eeu. Ek en Catrien het op ‘n bankie
gesit en na die musiek geluister en die ambience ingedrink.
Vyf dae voordat ons
in Wald aangekom het het die vallei ‘n geweldige reën neerslag beleef. Die trienspoor
is weggespoel deur die Salzach rivier wat sy walle oorstroom het met heelwat
skade aan van die weilande. Mittersil was onder ‘n meter water en die meeste
winkels was in die proses om die beskadigde voorraad te verkoop en op te ruim.
Wald im Pinzgau is
vatbaar vir herhaling. Wie weet?
To the top!
|